?Wanneer Wildré Kok praat oor haar rol as Kantoorbestuurder van prof Elmi Muller, Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), weerklink haar passie vir organisering en verbetering in elke woord. “Ek wil 'n hulpbron vir my eweknie? wees," sê sy met oortuiging. “Ek wil die staatmaker wees wat nie net die antwoorde ken nie, maar wat kan help om prosesse vaartbelyn te maak sodat alles beter werk."
Sy is tans in haar tweede jaar by die FGGW en het 'n filosofie omarm wat veel verder as tipiese administratiewe pligte strek. Haar strewe is duidelik: om elke proses, elke stelsel en elke interaksie in 'n beter toestand te laat as waarin sy dit aangetref het. “Wanneer ek eendag weggaan, sal my opvolger 'n beter omgewing hê wat dan verder verbeter kan word," verduidelik sy. Hierdie toekomsgerigte benadering het van haar 'n onmisbare strategiese vennoot in die Dekaan se kantoor gemaak.
? Trotse beroep
Wat Kok onderskei, is haar diep trots op die keuse van administrasie as beroep. In 'n akademiese omgewing waar hoogs gekwalifiseerde navorsers en klinici dikwels die kollig steel, maak sy passievol voorbrand vir die erkenning van professionele administrateurs. “Hierdie is ons beroep," beklemtoon sy. “Dit is nie 'n trapklip na iets groter nie – dit is wat ek gekies het, en ek is trots dat ek ? waardevolle bydrae lewer."
Haar geloof in die krag van kennisdeling is die aansporing vir baie van haar werk. “Daar is krag in die deel van kennis en vaardighede," sê sy. “Mense voel meer gewaardeerd wanneer hul bydraes erken en hul groei ondersteun word. Daardie waardering motiveer hulle om selfs meer te doen."
Globale netwerke en professionele groei
Hierdie toewyding tot professionele ontwikkeling en kennisdeling het daartoe gelei dat Kok die Nasionale Voorsitter geword het van International Management Assistants (IMA), 'n globale netwerk wat 20 lande insluit. Suid-Afrika is die enigste land buite Europa wat ? lid van hierdie invloedryke 50-jarige organisasie is.
“Administratiewe personeel voel dikwels dat hulle nie raakgesien word nie," merk Kok op. “Die IMA verskaf 'n platform waar ons kan teruggee, mekaar kan onderskraag en voorspraak vir ons beroep kan doen." Deur die aanbieding van webinare en glansgeleenthede help sy om 'n gemeenskap te skep wat administratiewe uitnemendheid koester.
Reis van groei
Kok se pad na die FGGW het begin met 'n avontuurlike oorbruggingsjaar in Londen, waar sy twee jaar lank by die Royal College of Physicians gewerk het. Dit was hier waar sy vir die eerste keer die dinamiese aard van ? multikulturele mediese omgewing ervaar het. Hierdie vroe? blootstelling aan gesondheidsorgadministrasie was bykans profeties en het haar voorberei vir haar huidige rol as ondersteuner van 'n chirurg-dekaan.
Haar formele loopbaan as persoonlike assistent het in 2008 by die Departement van Landbou se Elsenburg-kampus begin. Sy bestempel dit as “'n soms uitdagende omgewing". Pleks van afgeskrik te word het sy 'n baie belangrike les geleer: “Jy het die mag om vorm te gee aan hoe jy wil werk, en jy gee die toon aan in jou kantoor."
Hierdie vasberadenheid het haar goed te staan gekom in haar 13 jaar as persoonlike assistent van die Rektor van die Universiteit Stellenbosch, insluitend die uitdagende tyd ná die heengaan van prof Russell Botman vier maande nadat sy diens aanvaar het. “Daardie onseker tyd het my voorberei vir enigiets wat na my kant toe mag kom," vertel sy.
Balans en doelwit
“Die skuif na die Fakulteit het nie net oor loopbaanvooruitgang gegaan nie – dit was ook 'n gesinsbesluit. Die rol het haar nader aan die huis gebring en pas volmaak by haar graad in kantoorbestuur en tegnologie. “Ek het die kringloop voltooi en ek doen uiteindelik wat ek veronderstel is om te doen."
Die verskeidenheid wat elke dag bring, stimuleer haar die meeste. “Elke dag is anders," sê sy geesdriftig. “Ek hou van verandering, die oplossing van probleme en om op die hoogte te wees van wat in die Fakulteit gebeur." Haar rol strek verder as tradisionele administratiewe take, en as brugbouer tussen die Dekaan se kantoor en die FGGW se personeel en studente is sy 'n onmisbare kommunikasieskakel.
Vrye tyd
Ofskoon sy haarself as “ietwat van 'n werkesel" bestempel, vind Kok balans deur tyd met haar 7-jarige dogter deur te bring, wat haar met tennis- en netbaloefeninge besig hou. Hul aande word met sportaktiwiteite gevul en naweke met gehalte-gesinstyd. Die laaste lid van hul gesin is Lila, hul golden retriever – of, soos haar dogter haar noem, hul “golden achiever". Lila maak seker dat hulle daagliks hul stap- en buitelugavonture inkry.
Kok vergestalt die gees van Werkersdag en haar storie herinnner ons daaraan dat ware sukses nie net in persoonlike prestasie setel nie, maar in die skep van stelsels en die bou van verhoudinge wat almal rondom ons bevoordeel.