Ter viering van Jeugmaand plaas die Jong Alumni-program (YAP) aan die Universiteit Stellenbosch (US) die kollig op ons ongelooflike jong alumni. Ontmoet van ons merkwaardige Maties onder 35 jaar, wat hul US-verworwe kennis en vaardighede gebruik om grense te verskuif en werklik ’n impak in verskeie velde te maak.
Abongile Quthu het in 2022 aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer met 'n BA-graad in Internasionale Studies, en is tans besig met 'n Meestersgraad in Interkulturele Kommunikasie. Vir Abongile was universiteit nooit bloot 'n akademiese bestemming nie, maar 'n ruimte waar hulle hulself kon ontdek en hul potensiaal kon ontsluit. “Dit was nie perfek nie," sê Abongile. “Maar dit was persoonlik. My kern het gehou, want ek het geleer hoe om dit sterk te bou."
Die besluit om Internasionale Studies te studeer, het voortgespruit uit 'n begeerte om mense, beweging en identiteit beter te verstaan. “Ek het in Kayamandi grootgeword, en was nog altyd nuuskierig oor hoe die samelewing vorm gee aan wie ons is – hoe ons inpas, of nie. Deur Internasionale Studies het ek die taal gekry om te noem wat ek al lankal geleef het."
“My leerproses het plaasgevind saam met, deur en vanwe? die mense om my. Die klaskamer was nie net lesingsale nie – dit was proteste, gedeelde etes, hartseer én vreugde."
As 'n trans nie-binêre persoon in ho?r onderwys het hulle geleidelik in leierskapsrolle gegroei – rolle wat hulle gebruik het om gemarginaliseerde stemme te versterk. Abongile het onder meer gedien as ondervoorsitter van die Studenteraad, en betrokke geraak by die Transformasiekantoor, US Internasionaal, en die Sentrum vir Akademiese Administrasie.
Tans bevind Abongile hulself in 'n fase van “bou en word". Terwyl hulle aktief werk soek, lei hulle steeds twee gemeenskapsinisiatiewe: die Likhwezi Foundation, wat kinderhuishoudings in en rondom Kayamandi ondersteun, en die Dream Black Child Initiative, wat matrikulante help met universiteitsaansoeke en finansieringsprosesse.
“Daardie rolle is nie net werk nie – dit is ruimtes van mentorskap, waar ek my waardes in die werklikheid kan toets. Dit gaan nie net oor toegang nie; dit gaan oor die herstel van waardigheid. Jou drome is geldig, en ons sal jou help om dit na te jaag. Een van die grootste uitdagings is om die broodwinner te wees terwyl ek werkloos is. Ek moes uit 'n le? beker uitskink – maar ek skink steeds, want dié wat ek liefhet, drink uit daardie stroom."
Selfs in onsekerheid bly hulle geanker en getrou aan aktivisme, gemeenskapswerk en skryfwerk. “Transformasie begin binne. Jong professionele mense moet met dringendheid én doelgerigtheid beweeg.
“Hierdie is nog nie die hoofstuk van oorvloed nie – maar dit ís die hoofstuk van wording. En dit is heilig. Of dit nou vyf vergaderings, 'n protesoptog en 'n drag-repetisie was, of die skryf van beleidsnotules én optree as Liyana Arianna Madikizela – ek het geleer dat lag en kreatiwiteit ook vorme van weerstand is. Ons leef in 'n land waar ongelykheid en uitsluiting nie net statistieke is nie – dit is ons daaglikse werklikheid. Integriteit, deernis en kritiese denke – dit is die waardes wat ons nodig het."
Abongile sien hul generasie nie as passasiers nie, maar as mede-argitekte van Suid-Afrika se toekoms. Hulle is 'n trotse lid van die Stellenbosch Alumni-tak. Vir hulle bied ruimtes soos die Stellenbosch Alumni-tak waardevolle geleenthede om met ander te skakel, idees uit te ruil, en betrokke te bly by gesprekke wat saak maak.
“Ons is die ná-protesgenerasie wat steeds protesteer. Ons is besig om ons eie afloswedloop te skryf. Ons is moeg, ja – maar ons is ook onvermoeid. Ek woon bykans elke alumni-geleentheid by. Dis vir my oor gedeelde doelwitte en om saam die toekoms te vorm."
Hulle sluit af: “Ek is nie net besig om my pad te vorm nie – ek vorm wat moontlik is."
Fotograaf: Henk Oets